Moord op ’n paar van jou hartlammers
Vanoggend het ek my weer skuldig gemaak aan moord. Die soort moord wat skrywers ongelukkig dikwels gedwing word om te pleeg – die moord op ’n paar van jou hartlammers. Killing your darlings, soos die Engelse skrywersraad lui.
As jy tot hier gelees het en steeds geen idee het waarvan ek praat nie, ontspan. Die uitdrukking is bloot ’n stukkie klassieke skrywersraad wat beteken dat jy soms die rooi pen (of die backspace-knoppie) meedoënloos moet inspan om ’n paar van jou mooiste skryfsels uit te wis – gewoonlik daardie fleurige beskrywing wat jou so ’n opgewonde, selfingenome tinteling gegee het toe jy dit ’n ruk gelede neergepen het en jou ’n wyle lank daarvan oortuig het jy is moontlik die begaafdste woordkunstenaar op hierdie ondermaanse.
Dit is seer om daardie beskrywing uit te haal, want jy’s verlief op hom. ’n Skerpoog-redigeerder wat sy rooi ink werd is, sal dit egter meestal nie miskyk nie. En dan beland jy, soos ek, op ’n dag in die situasie waar jy jou manuskrip moet begin regtrek en ’n paar van daardie geliefdes moet afmaai.
Foto te danke aan Shutterstock